Quotation |
Haar beste werk bly nog altyd Onder Bevoorregte Mense (1925), waaraan die eerste prys toegeken is in 'n prysvraag van die firma Van Schaik. Die beoordelingskommissie het bestaan uit G. Besselaar, M.S.B. Kritzinger en P.C. Schoonees. By sy verskyning het hierdie roman groot verwagtings gewek, omdat die aantal leesbare verhale toe nog so beperk was. Marie Linde se latere ontwikkeling het egter hierdie verwagtings teleurgestel.
[about Onbevoordelde mense] Dit is natuurlik onbillik om soveel diepdeurvoelde menslikheid te eis in die eerstelingswerk van 'n jeugdige skryfster. Maar sy het daarin soveel blyke gegee van psigologiese insig en fyn opmerkingsgawe, dat ons na hierdie naïewe Bettie, wat deur 'n gelukslag haar droom verwerklik sien, nog 'n ander Bettie kan verwag, wat deur die ontplooiing van haar geestelike geaardheid tot 'n meer volledige vroulikheid sal ontwikkel. Ook in Marie Linde se styl ontbreek nog die ritme van opregte bewoënheid. Dit is wel vlot en deurgaans suiwer, maar tref nooit deur persoonlike segging nie. Wat die skryfster egter goed verstaan is die slag om deur 'n natuurlike opvolging van vlugtige toneeltjies haar persone steeds in beweging te hou en om hulle deur 'n ratse dialoog steeds 'n nuwe kant van hul innerlik te laat openbaar.
As skryfster van ligte ontspanningslektuur het Marie Linde egter baie verdienstelike verhale gelewer vir mense wat dit nodig vind ‘om deur middel van 'n mooi boek so 'n bietjie weg te kom van die moeilikhede en verdriet en teleurstellings van die ou lewe’. Niemand sal die bestaansreg van hierdie soort lektuur betwis nie, en omdat ons nog so heel weinig daarvan in Afrikaans besit, moet ons Marie Linde se bydrae dankbaar aanvaar. |