Quotation |
Haar hele Dagboek, die gemeenzame brieven en die eenzame overdenkingen is in die vroom sentimentele trant van die agtiende-eeuse epistolografie. Die briefvorm is tipies van die eeu, insgeslyks die matte lome prosa. 'n Beskrywing van 'n gebeurtenis aan die Kaap, van haar ontmoetinge of 'n voorval in haar daaglikse lewe, soek ons verniet in hierdie dagboek. Alles bly ewe vaag. So lees ons op byna iedere bladsy: ‘Bij het ontwaken viel er iets voor, waarover ik zeer misnoegd was,’ of: ‘Tegen den middag viel er iets voor, waar door, natuurlijkerwijze, mijn hart meer van het stof moest worden los gemaakt, en afzien van het schepsel, dat enkel ijdelheid is,’ of: ‘Gister en van daag kwamen mij verscheidene gevallen voor, die mij overtuigden van de nietigheid en het veranderlijke van al het ondermaansche.’ Wàt werklik gebeur het, kom ons nooit te hore nie; ons word alleen maar onthaal op ongemeen eentonige bespieëlinge van 'n vroom gemoed. Waar sy werklik in geestelike ekstase kom, word die prosa lewendiger en herinner aan dié van die middeleeuse mistieke vroue.
Die daaglikse aantekeninge is oninteressant, die swaarmoedigheid en neerslagtigheid werk deprimerend op die leser, met die gevolg dat daar van die grenselose versmading van die lewe en veragting van alles wat menslik is, geen krag of ontroering meer uitgaan nie. |